Ma en seun van Vanderbijlpark sterf in ongeluk op pad na skaakkampioenskappe

December 18, 2018

VAALDRIEHOEK - ’n Sportkoördineerder aan die Emmanuel Private School in Vanderbijlpark en haar seun het Sondagoggend op pad na die Suid-Afrikaanse junior skaakkampioenskap (SAJCC), wat in Boksburg aan die Oos-Rand gehou word, in ‘n ongeluk gesterf. Die 38-jarige Sarina van Zyl en haar 11-jarige seun Rico, wat aan die toernooi sou deelneem, is volgens ER24 se Werner Vermaak op slag dood toe hul motor reg van voor teen ’n ander voertuig op die R59 naby Taaibosspruit, tussen Vereeniging en Sasolburg, gebots het. Emmanuel Private School het die voorval op sy Facebook-blad bevestig en sy medelye betuig. Sarina, wat in die Vaaldriehoek grootgeword en aan Hoërskool Vereeniging skoolgegaan het, was volgens haar kollegas ‘n baie vriendelike, gelowige en geliefde mens wat uit haar pad gegaan het om goed te doen aan ander. Sy het gelewe vir haar kinders.
’n Inskrywing op die Suid-Afrikaanse Junior Skaakkampioenskap se Facebook-blad lui dat ‘n oomblik van stilte Sondag gehou is vir die twee mense wat op pad na die skaaktoernooi gesterf het. ’n Oop skaakbord gaan regdeur die toernooi vir Rico gehou word.
Sarina se jongste kind, die 8-jarige Zanika, was tydens die ongeluk by haar ouma.
FOTO: (Facebook - Sarina van Zyl en haar seun Rico; ER24 en Netcare911 se fotos van die ongeluk)

 

 

Share on Facebook
Share on Twitter
Please reload

Recent Posts
Please reload

Search By Tags