VF Plus sê amnestie-periode vir vuurwapens dien geen doel nie

November 26, 2019

VAALDRIEHOEK - Leier van die VF Plus dr. Pieter Groenewald, sê die regering stel ’n amnestie-periode voor om onwettige vuurwapens en misdaad te bekamp, maar intussen word die meerderheid vuurwapens en ammunisie deur die polisie self verloor. Die amnestie is aanvanklik van 1 Oktober vanjaar tot Maart volgende jaar beplan, maar kon om verskeie redes nog nie begin nie. Dit sal nou op 1 Desember begin en tot die einde van Mei volgende jaar duur. Die Nasionale Vergadering het verlede Donderdag die Portefeuljekomitee oor die Polisie se amnestieverslag goedgekeur. Die doel van die vrywaringsperiode is om mense aan te moedig om onwettige vuurwapens in te handig in 'n poging om misdade, wat met vuurwapens gepleeg word, uit te roei.

Groenewald sê egter dit het ’n paar maande gelede bekend geword dat die polisie 10 miljoen patrone en 4 357 vuurwapens verloor het. Hy sê dit is dus duidelik dat die polisie self die grootste verspreider van onwettige vuurwapens en ammunisie in die land is. Groenewald sê amnestie teiken vuurwapeneienaars wat nie betyds aansoek gedoen het om die hernuwing van hul lisensies nie en die VF Plus het in die portefeuljekomitee gevra die minister moet dié aspek in ag neem. Dit is ’n mite en ’n leuen dat die doel van hierdie amnestie is om misdaad te bestry. Groenewald sê om misdaad daadwerklik te bestry moet die polisie die voorbeeld stel en verseker dat sy eie wapens en ammunisie behoorlik bewaar word.
FOTO: (Verskaf)

 

 

Tags:

Share on Facebook
Share on Twitter
Please reload

Recent Posts
Please reload

Search By Tags