Die Gautengse regering het gister die Vaaldam besoek
- 90.6 FM News
- Jul 29, 2024
- 1 min read
VAALDRIEHOEK - Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, sê die provinsiale regering gaan 'n reeks evaluerings van infrastruktuur in die provinsie doen. Gautengse regeringsamptenare was gister by die Vaaldam om 'n idee te kry van die uitdagings van watervoorsiening aan die provinsie. Lesufi het gister 'n gedetailleerde verslag ontvang oor die bedryf van die Vaalrivierstelsel en sy grootmaatwatertoevoer aan Gauteng en ander provinsies, insluitend infrastruktuuronderhoud. Die verslag fokus op die maatreëls wat ingestel word om die indringerwaterslaaiplant wat aansienlike probleme in die Vaalrivier veroorsaak het, te beheer. Central News berig hoewel die gemeenskap meer as R6 miljoen bestee het en vrywilligers vanjaar 80 dae gewerk het om meer as 168 000 kubieke meter waterslaai uit die Vaalrivier te verwyder, het die regering nog geen van die indringerplante fisies verwyder nie. In plaas daarvan is talle vergaderings gehou om die kwessie te bespreek. Lesufi sê daar sal nuwe oplossings moet wees vir die krisis wat die mees bevolkte gebied van Suid-Afrika en die land se ekonomiese spilpunt raak. Hy het inwoners verseker dat die onderhoud wat Rand Water op sy stelsels doen, so vinnig as moontlik geskied om watertoevoer na geraakte gebiede te herstel.
FOTOS: (Gauteng Provincial Government)
Comments