VANDERBIJLPARK - Die Vryheids Front Plus sê ná ʼn oorsigbesoek aan ʼn stormwaterstelsel-projek in Vanderbijlpark, het hy versoek dat dit tydelik gestaak word weens swak vakmanskap. Die Vryheids Front Plus, te same met munisipale amptenare en verskeie partye het die projek besoek omdat die kontrakteur in Mei verlede jaar die projek al moes afhandel. Volgens die VF Plus, het die kontrakteur twee jaar gelede teen ʼn bedrag van R8-miljoen begin om ʼn nuwe stormwaterstelsel te bou langs Westinghouselaan in Vanderbijlpark. Die stormwaterkanaal moet ook met betondeksels bedek word wat opgelig kan word om dit skoon te maak. Die kontrakteur, wat reeds R4 miljoen vir die werk ontvang het moet ook eersdaags met die herseëling van die pad begin. Tydens die oorsigbesoek is gevind dat van die nuwe betondeksels gekraak is en die handvatsels van dun metaal gemaak is. Die Vryheids Front Plus se Gerda Senekal sê hulle dring daarop aan dat die kontrakteur eers aan die munisipale raad kom verduidelik oor hoekom sulke swak kwaliteit werk gelewer is alvorens daar met die kontrak voortgegaan word. Die party sê hy sal nie toelaat dat kontrakteurs miljoene betaal word om substandaard werk aan die munisipaliteit te lewer nie.
top of page
bottom of page
Comments