top of page
Search

Kontrakwerkers van Emfuleni wat omkoopgeld vra, vasgetrek

VANDERBIJLPARK - Die Vryheids Front Plus, in samewerking met die maatskappy wat elektrisiteit weens wanbetaling in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit afsny, het twee van dié maatskappy se werknemers vasgetrek wat na bewering omkoopgeld van ʼn sakeman en ander inwoners en ondernemings in Vanderbijlpark geëis het, om nie hul krag af te sny nie. Die VF Plus sê hy het twee jaar gelde met ʼn ondersoek begin om dié kontakwerkers vas te trek nadat inwoners en sakelui die party genader het om hulp. Volgens die VF Plus het ʼn sakeman van wie omkoopgeld geëis is, Donderdag saam met die party en die maatskappy ʼn lokval vir die werkers gestel. Hulle het aanvanklik R10,000 gevra om nie die sakeman se krag na sy perseel af te sny nie, maar later geskik vir R4,000. Die hele voorval is op video opgeneem. Die munisipaliteit is na bewering besig om die omvang van die saak te ondersoek en volgens inligting, het nog mense van wie omkoopgeld gevra is, na vore gekom. Die VF Plus versoek inwoners om nie omkoopgeld aan enige persoon te betaal weens ʼn agterstallige rekening nie, maar om eerder ʼn afbetalingsooreenkoms met die munisipaliteit aan te gaan. Inwoners wat omkoopgeld betaal om hul krag onwettig te laat koppel of nie af te laat sny nie, kan ʼn stewige boete van die munisipaliteit op die lyf loop. Die VF Plus sê Emfuleni sukkel reeds om maandeliks sy kragrekening aan Eskom te betaal en kan nie bekostig dat inwoners hom nog verder in die skuld dompel met onwettige kragaansluitings nie.


57 views0 comments

Comments


bottom of page