VAAL MARINA - Die liggaam van die 18-jarige hoofseun van Greenside High School, Reza Saloojee, is gistermiddag in die Vaaldam in Vaal Marina, Vaaldriehoek, gevind. Hy het Sondag saam met sy gesin by die Boschkop Fishing Resort visgevang toe hy in die dam in is om sy besittings wat weggewaai het, uit die water te haal. Volgens berigte het 'n sterk stroom hom meegesleur en polisieduikers het drie dae lank na hom gesoek. Saloojee se liggaam is sowat 100 meter van die plek waar hy vermoedelik verdrink het, gevind. Polisieduikers van Tshwane, Johannesburg en Wes-Rand was by die dam om kollegas in Sedibeng te help, wat Sondag met die soektog begin het. Meer as 20 duikers is na die toneel ontplooi. Gautengse polisiewoordvoerder, Kol. Nxolo Kweza, sê die slagoffer se familie was op die toneel toe die span SAPD-duikers die seun se lyk omstreeks 16:00 gistermiddag gevind het.
FOTOS: (@Abramjee)
Comments