VEREENIGING - Die Gautengse gesondheidsdepartement sê hy het 'n geregtelike doodsondersoek geopen en 'n interne ondersoek sal gedoen word na die dood van 'n 25-jarige swanger pasiënt wat na bewering die naweek selfmoord gepleeg het in die Kopanong-distrikshospitaal in Vereeniging. Volgens die departement is die 29 weke-swanger pasiënt wat verlede Vrydag opgeneem is, Saterdag in die vroeë oggendure deur verpleegsters ontdek waar sy met haar kopdoek in die badkamer gehang het. Die pasiënt het abnormale gedrag getoon en is in die kraamsaal opgeneem. Sy is egter later in 'n geskuif na ‘n ander saal omdat haar toestand deur huilende babas gesneller is. Motalatale Modiba, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê ondersoeke aan die gang. Volgens Modiba is die voorval by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangemeld, wat reeds 'n doodsondersoekdossier geopen het. Modiba het bygevoeg die Gautengse departement van gesondheid se gehalteversekeringseenheid sal ook 'n interne ondersoek doen aangesien hierdie saak as 'n pasiëntveiligheidsvoorval beskou word. Die interne prosesse sal na verwagting nie meer as 60 dae neem om af te handel nie, onafhanklik van die SAPD-ondersoek.
top of page
bottom of page
Comentarios