top of page
Search
Writer's picture90.6 FM News

Nasionale Vergadering aanvaar wet wat Graad R nou verpligte beginouderdom vir skoolonderrig maak

VAALDRIEHOEK - Die Nasionale Vergadering het die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette aanvaar en dit sal nou na die Nasionale Raad van Provinsies gestuur word vir goedkeuring. Volgens die wetsontwerp sal graad R nou die nuwe verpligte beginouderdom vir skoolonderrig wees en ouers wat versuim om hul kinders in te skryf, sal formeel gestraf word. Lyfstraf word nie meer by die skool toegelaat nie. Die wetsontwerp maak ook voorsiening dat daar nou van ‘n skoolbeheerliggaam vereis word om die taalbeleid van ‘n openbare skool en enige wysiging daarvan vir goedkeuring aan die departementshoof voor te lê.

Intussen is die DA besig om sy eie regstryd teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette voor te berei, en sê hy sal tot in die Konstitusionele Hof veg. Die Bela-wetsontwerp poog om die Wet op Suid-Afrikaanse Skole en die Indiensneming van Opvoeders te wysig. Baxolile Nodada van die DA sê hulle sal nie ’n wetsontwerp ondersteun wat skole, ouers en gemeenskappe ontmagtig nie.

AfriForum sê hy sal voortgaan met voorbereiding om ʼn regstryd te voer teen die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette wat gister in die Nasionale Vergadering aanvaar is. Die Bela-wetsontwerp stel talle veranderinge aan die Suid-Afrikaanse Skolewet voor. Dit sluit onder andere in dat die Departement van Onderwys ʼn skool se taalbeleid en leerplanne bepaal. Alana Bailey van AfriForum sê hulle beskou die wetsontwerp as ʼn direkte aanval op Afrikaanse onderwys. FOTO: (Verskaf)


1 view0 comments

Comments


bottom of page