Die Nasionale Gesondheidsversekeringswetsontwerp het amptelik 'n wet van die Parlement geword nadat president Cyril Ramaphosa dit onderteken het. Dit kan egter nog jare duur voor dit amptelik in werking tree. Die ondertekeningsplegtigheid was gistermiddag by die Uniegebou in Pretoria, in wat die regering bestempel as 'n beduidende mylpaal in gesondheidsorghervorming. Ramaphosa sê die Nasionale Gesondheidsversekering wil armoede pak deur gesondheidsorg meer bekostigbaar te maak. Hy het met die openbare ondertekening van die wetsontwerp gesê die stygende koste van gesondheidsorg dompel gesinne in armoede, en die NGV wil dié las verlig. Ramaphosa sê die NGV sal na verwagtig gesondheidsuitkomste verbeter, voorkombare sterftes verminder, en bronne beskikbaar maak vir arm gesinne vir ander noodsaaklikhede.
Opposisiepartye en sekere burgerregte-organisasies het egter aangekondig hulle gaan die wetgewing in die hof uitdaag.
Een hiervan is AfriForum, wat reeds by die Uniegebou 'n regsbrief aan die president oorhandig het. Daarin stippel die organisasie uit dat daar 'n klasaksie geloods gaan word teen die regering vir die skade wat deur die NGV wet aan die ekonomie gedoen gaan word.
Die DA veroordeel president Cyril Ramaphosa se ondertekening van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering, en beskuldig die ANC van die verwaarlosing van die mislukte gesondheidsorgstelsel. Hy voer aan die wet is 'n verkiesingsinstrument, sonder die nodige belegging en infrastruktuur vir doeltreffende gesondheidsorg. Van die kritiek sluit in, kommer oor korrupsie, befondsing, gebrekkige parlementêre prosesse en grondwetlike oortredings. Die DA-lid, Siviwe Gwarube, het beloof om die skema op alle wetlike maniere uit te daag om die regte van alle burgers te beskerm.
Build One South Africa oorweeg intussen regsoptrede om die instelling van die NGV uit te daag. Hulle voer aan die NGV is onbekostigbaar en sal nie die land se gesondheidsorgdiens regmaak nie. Die party stel alternatiewe oplossings voor, soos die ouditering van hospitale, befondsing van beurse vir gesondheidsorgstudente, en die verbetering van gesondheidsorg-infrastruktuur. Die leier van BOSA Mmusi Maimane kritiseer die ANC vir die prioritisering van regsgedinge bo gesondheidsorg.
Die African Transformation Movement het egter die bekragtiging van die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering verwelkom en sê gehalte-gesondheidsorg vir almal is noodsaaklik. Die regering belowe die NGV gaan beter mediese dekking vir alle landsburgers verseker deur een universele gesondheidstelsel vir die hele land te skep. Verskeie opposisiepartye en organisasies dreig reeds met regsoptrede omdat hulle sê dit is nie konstitusioneel nie en onbekostigbaar om te implementeer. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê toegang tot gehalte-gesondheidsorg is 'n basiese mensereg.
FOTO: (Verskaf)
Comentários