Nuwe maatskappy op die boeke as langtermynoplossing vir ELM en Randwater skuldbestuur
- 90.6 FM News
- Apr 9, 2024
- 1 min read
VANDERBIJLPARK - AfriForum Vanderbijlpark sê 'n loodsprojek om 'n aparte maatskappy te stig om die volledige water- en rioolfunksie in Emfuleni oor te neem, is op die boeke. Dis in 'n poging om 'n langtermynoplossing vir die Rand Water/Emfuleni-skuldbestuur te bereik. Volgens AfriForum sal Emfuleni en Rand Water die twee grootste aandeelhouers, met ‘n gelyke aantal aandele, van die nuwe maatskappy wees, en nie een van hulle mag ter enige tyd 'n meerderheid aandeel hê nie. Hulle sal egter saam 'n meerderheid aandeel oor ‘n derde komponent hê. Die derde komponent is 'n opsie vir werknemers en/of private aandeelhouding. AfriForum sê die haglike finansiële situasie, met Emfuleni wat sowat R1-miljard aan Rand Water skuld, het drastiese maatreëls uitgelok. ELM se onvermoë om sy rekeninge te vereffen het gelei tot ernstige gevolge, insluitend 'n 70% waterverlieskoers en infrastruktuur agteruitgang. Om die krisis te verlig, het hierdie stap ten doel om doeltreffende fakturering, instandhouding en verbetering van infrastruktuur te verseker. Hangende goedkeuring is implementering vir 1 Julie 2024 gestel. Vir inwoners beteken hierdie inisiatief die implementering van voorafbetaalde watermeters, verbeterde instandhouding, vinniger herstel van lekkasies en moontlik laer tariewe.
Comments