VAALDRIEHOEK - Die vakbond Solidariteit het ‘n ultimatum gestel dat die beplande Nasionale Gesondheidsversekering onmiddellik gestaak word. Hierdie ontwikkeling kom terwyl die Nasionale Raad van Provinsies gereed maak om oor die Wetsontwerp op die NGV te stem. Die vakbond herhaal in ‘n nuwe aanmaning sy voorneme om partye wat verantwoordelik is aanspreeklik te hou, insluitende president Cyril Ramaphosa, die minister van Finansies, Enoch Godongwana, die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, en die Nasionale Tesourie. Solidariteit se uitvoerende hoof, Dirk Hermann, voer aan die NGV in sy huidige formaat is onwerkbaar, onbekostigbaar en onnodig. Hermann is voorbereid op ‘n moontlike regstryd.
Intussen hoop Adjunkpresident Paul Mashatile dat die Nasionale Gesondheidsversekering-Wetsontwerp vandag deur die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar sal word. Die wetsontwerp is verlede week skielik aan die raadsitting onttrek ná teenkanting deur sakeorganisasies. Mashatile sê die regering sal voortgaan om met belangrike rolspelers kontak te hou om werkbare oplossings te vind vir probleme wat keer dat die wetsontwerp aanvaar word. Hy sê dit sal toelaat dat elke Suid-Afrikaner behoorlike, standaardgehalte gesondheidsorg ontvang ongeag hulle vermoë om daarvoor te betaal.
FOTO: (Verskaf)
Comments