MIDVAAL - Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi het die Midvaal-munisipaliteit geloof, die enigste een in die provinsie wat Eskom nie ’n sent skuld nie, maar eerder in ‘n krediet is by die kragvoorsiener. Lesufi sê egter die Emfuleni Plaaslike munisipaliteit gee hom slapelose nagte omdat hy namens die munisipaliteit met Eskom moes onderhandel nadat die kragvoorsiener ELM se bankrekening aangeheg het, omdat hy nie ’n plan voorgelê het oor hoe hy sy skuld gaan delg nie. Hy sê munisipaliteite moet hul sake in orde kry, spesifiek om hul skuld by Eskom uit te sorteer. Lesufi het gister by die provinsie se Energy Indaba by die Gallagher-konvensiesentrum in Midrand ’n beroep op munisipaliteite gedoen om by Eskom aansoek te doen om hul skuld af te skryf. Dit is een van die voorgestelde oplossings vir die skuldprobleme waarmee baie munisipaliteite worstel. Volgens Lesufi het slegs Emfuleni, Rand-Wes en Mogale City gebruik gemaak van die venster wat die tesourie oopgemaak het vir munisipaliteite wat Eskom skuld om te demonstreer hoe hulle beplan om hul rekeninge in die toekoms beter te bestuur sodat hul skuld afgevee kan word. Munisipaliteite regoor die land skuld Eskom sowat R57-miljard.
top of page
bottom of page
Comments