top of page
Search
Writer's picture90.6 FM News

VF Plus en Gift Of The Givers verskaf ekstra watertenk aan Emfuleni

VAALDRIEHOEK - Die Vryheidsfront Plus in Emfuleni het intussen in samewerking met die organisasie Gift of the Givers ʼn bykomende watertenk beskikbaar gestel om die waternood in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) te verlig. Die hoof-watertoevoerpyp vanaf Randwater na Emfuleni het Maandagaand gebars en gevolglik is die hele Vereeniging en Vanderbijlpark sonder water. Die watertekort strek so ver as Parys in die Vrystaat. VF Plus Rdl Gerda Senekal sê Emfuleni het slegs 15 watertrokke wat 45 wyke moet bedien. Water is eerste aan klinieke, hospitale en skole voorsien waarna dit aan die res van die woonbuurte beskikbaar gestel is. Senekal sê hierdie is egter nie genoeg nie en die VF Plus in Emfuleni en Gift of the Givers het saamgewerk om nog ʼn watertenk te bekom. Dié watertenk is voor die kantore van die VF Plus in Faradaylaan 84, Vanderbijlpark aangebring. Inwoners kan te eniger tyd hier water kom afhaal.


Dit kom soos wat ’n ander Emfuleni-raadslid bevestig het dat herstelwerk aan die pypleiding vandag voltooi is. Wyk 5-raadslid, Maureen Dosoudil, sê die herstelwerk is suksesvol afgehandel en dat die pyplyn laai en water vloei. Sy sê die laerliggende gebiede sal eerste water ontvang en sal na verwagting van Vrydag laatmiddag af water hê. Sy het hierdie inwoners versoek om water spaarsamig te gebruik sodat die hoër gebiede ook so gou moontlik watertoevoer kan kry. Die raadslid het inwoners aangemoedig om asseblief geduld aan die dag te lê. Volgens die munisipaliteit sou herstelwerk aan die waterpyp wel vandag voltooi wees, maar water sal eers Saterdagaand al die woonbuurte bereik.

FOTO: (VF Plus)


5 views0 comments

Comentarios


bottom of page