VAALDRIEHOEK - Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku teen warm, baie warm en uiters warm weerstoestande vandag, danksy die voortdurende hittegolf wat die grootste deel van die land aangryp. Hittegolftoestande met aanhoudende hoë temperature word tot Vrydag verwag oor Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, die noordoostelike dele van Noord-Kaap, sentrale en oostelike dele van die Vrystaat, Noordwes, die westelike dele van KwaZulu-Natal, asook die oostelike en noordelike dele van die Oos-Kaap, waar dit Vrydag in die weste sal verbeter. Gauteng sal vandag baie warm wees in die uiterste noorde, andersins gedeeltelik bewolk en warm, met geïsoleerde donderbuie in die middag. Woordvoerder van Johannesburg Nooddienste, Robert Mulaudzi, het inwoners versoek om veral direkte sonlig tussen 11:00 en 15:00 die middag te vermy, en wanneer hulle buite werk, moet hulle gereeld pouses neem. Mulaudzi sê blootstelling aan hierdie uiters warm temperature kan hitte-uitputting veroorsaak en inwoners moet gehidreer bly deur baie water te drink. Die SA Weerdiens het gesê hittegolwe vind plaas wanneer maksimum temperature 5°C warmer was as die gemiddelde maksimum temperatuur van die warmste maand vir 'n spesifieke stad of dorp vir drie of meer opeenvolgende dae.
FOTO: (Verskaf)
Comments