'n Geliefde meneer by Hoërskool Overvaal se gedenkdiens word vanmiddag regstreeks uitgesaai
- 90.6 FM News

- Mar 6
- 1 min read
VEREENIGING - Die gedenkdiens van ‘n geliefde Hoërskool Overvaal meneer vind vanmiddag vanuit die NG Kerk Falconridge plaas. Hoërskool Overvaal het Sondag op sy Facebook-blad bekend gemaak dat die 27-jarige Meneer Stiaan Pistorius op Saterdag, 1 Maart 2025, oorlede is. Maroela Media het intussen berig dat Pistorius se liggaam Saterdagoggend in sy huis gevind is. Hoërskool Overvaal se skoolhoof, Schalk Rabie, het Maandag aan Maroela Media bevestig dat familielede van Pistorius wat ook by die skool werk hom in sy huis gevind het. Volgens die berig het hy vermoedelik sy eie lewe geneem. Pistorius moes na wat berig word die Saterdagoggend vroeg by die skool aanmeld ter voorbereiding vir ‘n sportdag teen Hoërskool Sasolburg, maar het nooit opgedaag nie. Sy familie het onraad vermoed en is inderhaas na sy huis waar hulle hom gevind het. Rabie sê aan die nuusagentskap die verlies vir die kinders en personeel is baie traumaties en onverwags. Die skoolhoof sê sy passie vir kinders en die rol wat hy in die leerders se lewens volgestaan het was ongelooflik. Pistorius se gedenkdiens vind om 14:00 vanmiddag plaas, en die diens sal regstreeks op Youtube uitgesaai word. Volg hierdie skakel: https://www.youtube.com/live/iIqu5H7qap4.



Comments